Friday 18 May 2012

Skatjie verjaar!!! Sara sê GELUK.


Liewe Leon

Die jare het ‘n boksprong gemaak en hier is ons: 60 jaar oud!

Wie ES jy? Vir my is jy die volgende:

Die gelowige wat vir almal om jou ‘n inspirasie bly.
Die beste pastor wat geen moeite ontsien om by siekes en treurendes uit te kom nie. Jou preke is deeglik nagevors, weldeurdag en goed gekonstrueer en dit bly vir my lekker om na jou te luister, maar dis OOK  baie lekker om teen jou skouer te sit en na iemand anders se preek te luister.

Jy is die akademikus, wat altyd aanhou studeer en altyd ‘n bewonderaar van Gadamer bly -  daarom moet ek ook sy prentjie vir jou insluit. Wanneer jy toetse nasien, skryf jy aanmerkings op die rekenaar by studente se name sodat jy dadelik navrae kan beantwoord. Wanneer jy preekmaak of klas voorberei, kom ek nie in jou studeerkamer nie, want dan trap ek daarop of stamp ek dit af. (As akademikus sal jy my selfs my verkeerde aanhaling in die slotparagraaf verskoon.)

Jy is die stryder vir reg en geregtigheid en in die apartheidsjare is jy verkwalik (én waardeer) omdat jy daarteen gepreek het en  jou naam geteken het om teen die status quo te rebelleer.

Die Pa wat altyd vir sy kinders in stilte bid, maar nie met sy kommer oor hulle op sy mou rondloop nie en dit altyd regkry om my gerus te stel. Ook saam met my in hulle vreugdes en prestasies deel – en in stilte die trotse vader is.  Jy is die Pappa wat in die nag met die baba in die rugsak in die tuin gaan stap het om haar rustig te maak sodat almal kan slaap.  Die pa wat ‘n bok is vir pret en deelneem aan vakansieprojekte soos borde verf, pette maak en selfs vir jouself twee onderbaadjies met die masjien gemaak het. Jy dans jou dogter se rol in die PA's se konsert, laai drie passasiers agter op die windsurfer, juggle met lemoene, speel Chopsticks wanneer hulle oefen vir 'n musiekeksamen. 


As jy ‘n klip by die water sien lê, moet jy kyk hoeveel keer jy dit kan laat spring. Jou kollega het jou selfs eenkeer vir ‘n bottel wyn gewed dat jy nie ‘n baksteengrootte klip sal kan laat hop nie - die bottel het jy al verskeie kere gekry.

In ‘n tyd toe ons geen raad geweet het met ons kinders se universiteitsuitgawes nie, het die gesin saam besluit op onmiddellike aksie en die jaar wat ek in Taiwan was – die swaarste in ons getroude lewe – het jy in buitengewoon moeilike werksomstandighede jou fokus behou en was jy op jou manier Pa en Ma vir ons tienerdogter. Ek sal jou altyd bewonder en dankbaar wees vir jou finansiële vernuf en dat ons sonder sorge ons kinders deur universiteit kon help. 

Jy is die lojale vriend, wat alles vir jou vriende sal doen – selfs jou gunsteling pet uitleen. (Ek ken een vriend wat sal ineenkrimp, wanneer hy hier lees.) Wanneer ‘n vriend in ‘n marathon swaarkry, bemoedig jy, vertel grappies, maar weet om doodstil te bly en net een voet voor die ander te sit as julle albei die muur geslaan het.

Ek kon nooit deel in jou draf-liefde nie, maar bewonder jou vir die permanente nommers in die Knysna en 2 Oceans-marathonne. EN die brons medalje in die driekamp - al was julle net 4 deelnemers in die kategorie en die derde deelnemer gediskwalifiseer. Ook dat jy een jaar derde gekom het in die Knysna. MAAR veel meer bewonder ek jou dat - nou dat jy nie meer kan draf nie -  nie kla nie en vrolik kilometers ver swem - tot by een van jou gesinslede.

Jy is die beste onderdaan wat enige kat kan hoop om te hê – wie anders sal kosgee en muis-reste en kat-naar met soveel geduld opruim?

Jou sin vir humor  is in sigself vermaaklik (al sug ek soms?) die flouste grappe is vir jou die snaaksste en jy  vergeet die punchline wanneer jy aan die einde van die laaaang grap kom.


The Good, the Bad and the Ugly bly deur die jare jou gunstling-movie en laat die kinders wonder of hulle iets misgekyk het ... maar ook nie meer deesdae nie. 

Jy is nie lief genoeg vir fliek nie, maar daarvoor vergoed jou liefde vir musiek, ballet en die teater.

Jy lees gedigte en luister musiek– al kan jy as jy baie van Händel hou, dieselfde CDs oor en oor en oor en oor speel net soos wanneer jy van ‘n vakansieplek hou en ons oor en oor daarheen teruggaan.

Ons kan saam lag, baie keer, op dieselfde dag – ‘n kwinkslag is nooit op jou gemors nie. Jy gee altyd die beste reaksie. En jy slaan die bal vinnig terug. 

Jy het BAIE geduld met my “projekte” wat ek aanpak en die huis vir dae na verf en gom laat ruik. Die woema waarmee jy vensters en deur oopgooi is aanskoulik. Jy gee gawe applous wanneer ons gestoffeerde stoele van goud na silwergrys verkleur het en dit ‘n sukses is. Ek is seker as dit geflop het, sou jy my ook nie verkwalik het nie.  Daarvoor sal ek aanhou om vir jou te sê watter das by watter hemp pas – al het ek dit al baie keer met dieselfde das en hemp gedoen. Gelukkig dra jy in die somer swart.

Jy is ‘n natuurliefhebber wat altyd die berge, die blare, die sonsondergang, die see en die reën raaksien, waardeer en afneem – dankie tog vir nuwe kameras en selfone dat ons nie 6 fotos van ‘n rob in die water het, waarop niemand  die rob sien nie.

Jy is die beste seun wat enige ma ooit kan hê en jou lojaliteit bly deurlopend. Ten spyte.

Vir my het die meetsnoere in lieflike plekke geval, my erfenis is vir my mooi. Ek kon vir geen beter vriend, maat, pa vir ons kinders, pastor, man gevra en gekry het nie. 

Baie dankie en baie geluk met jou verjaarsdag. 

No comments:

Post a Comment