Thursday 17 May 2012

Goeie Wense van Vriende en Familie



Van Dirkie en Ria Smit 



Beste Leon en Saartjie,


Laat ek eers dankie sê vir die blote feit dat Saartjie my ook insluit by die vraag wanneer ek Leon die eerste maal ontmoet het. Dit laat my sommer beter voel oor myself, bloot dat iemand kon dink ek sou dalk so iets kon onthou. Die waarheid is natuurlik dat ek nie eens kan onthou wanneer ek hom die lááste keer gesien het nie! 
Ek moet erken, vreemd genoeg kan ek die eerste keer onthou wat ek vir Saartjie gesien het! Dit was een aand in die bos daar onder langs die treinspoor net anderkant die wynkelder. Dit was die predikate aand partytjie en Saartjie het kitaar gespeel en gesing, baie mooi. Indien Leon daardie aand ook dalk daar was is dit dus darem wel die eerste keer dat ek hom nié gesien het nie.


En alhoewel ek nie die éérste keer kan onthou dat ek hom gesien het nie, onthou ek uiteraard vele kere dat ek hom wél op plekke en in toestande gesien het –

Ek onthou byvoorbeeld die keer (nogal op dieselfde plek, een aand in die bos daar onder langs die treinspoor net anderkant die wynkelder) toe ek die dominee nagemaak het sonder dat hy agtergekom het dat ek hom namaak – Leon was ook daar, dalk toe al as voorsitter van die Admissiebond? Hy was daardie jare baie voorbeeldig en vroom en ons het almal groot dinge van hom verwag. Ek onthou op die CSV-bestuurskampe hoe hy altyd wou Bybelstudie hou as ek moes Grieks leer.

Maar nouja, daar was ook ander kante aan hom deur die jare, né? Ek onthou hoe ons een keer in die wingerde vir hom moes gaan soek en staan en wag het, en hoe hy eindelik natgesweet en windverwaaid daar aangekom het (daardie keer met die marathon). Ek onthou die storie in die Laan en hoe ek moes aandring dat hulle moes trou, anders het hy seker nooit so ver gekom nie. Ek onthou die keer met die troue self, op die plaas, toe hy nie vooraf sy mind kon opmaak oor wie by wie moes slaap nie. Nee, ek onthou baie dinge van hom, so van sy eerste sestig jare, maar ongelukkig nie meer die eerste keer nie.

Van hom as ouer? Ek onthou hoe onverskillig hy op Knysna was toe Cara op en af geklouter het teen haar baba-stoeltjie, sodat my hart amper wou gaan staan. En hoe hy later op Palmiet ewe ongeërg sou bysit met haar hoog in die takke, wéér tot my diepe ontsteltenis. Trouens, ek onthou in Dennesig hoe hy vir Wendy onder die motor laat beland het en vir Tanya in die bedkassie se laai. En hoe hy ewe nonchalant op Knysna in die garage met ‘n kamera sou rondloop terwyl Saartjie met haar poppe vir die kleintjies (en vir my) die skrik op die lyf jaag.


As vriend? Ek onthou hoe hy nie wou kom as Lise hom so mooi gaan roep het dat daar sport op televisie sou begin nie. En hoe hy daardie jare saans voor dieselfde televisie sit en slaap het as ons iets kyk, net sodat hy vroegdag, terwyl ons nog lê, in die bosse kon gaan “just do it.”


As eggenoot? Ek onthou hoe ek op Palmiet op die rotse moes gaan sit terwyl hy alleen in die vuil water perlemoen duik, sodat ek darem na die tyd vir Saartjie sou kon wys waar dit gebeur het. Maar nouja, gelukkig het dit toe nie gebeur nie – en hou die huwelik, die vriendskap, die kinders en ‘n bietjie van die vroomheid nog almal, ná die eerste sestig jaar.


Namens Ria en myself, Leon, aan jou en die hele familie, baie hartlik geluk. Ons weet op jou tydskaal is dit eintlik nog net ‘n halfmarathon, of dalk deesdae ‘n halwe lengte, maar vir óns gewone mense is ses dekades tog ‘n lang tyd, vol van goedheid en genade, en ons is diep dankbaar dat ons vir die grootste deel daarvan vir jou kon ken en saam met jou en julle dié jare kon belewe. 


Ons waardeer jou vriendskap geweldig, gewéldig. (Ons weet jy het by Aristoteles gelees wat ‘n vriend behoort te wees, maar nogtans, niemand kon dit beter doen as jy nie – baie dankie.) Ons onthou die help hospitaal toe neem, sovele kere; die help trek en meubels skuif, sovele kere; die ouchie wat die skuifdeur ingesit het; die gesellige kuiers en heerlike etes; dat ons saans saam kon Kaap toe gaan toe ons jonk was en nou gelukkig nie meer hóéf Kaap toe te gaan saans nie; die kom help toe ons remme kapoet was en Nico se waaierband ook; die boeke wat ons weet ons enige dag kan terugleen.


Die een foto gedenk goeie tyd van die eerste sestig. Die ander voorsien goeie tye vir die volgende hoeveel ook al.


Ria en Dirkie

Van Neels en Edith Joubert 

Beste Leon,  Ons kom al 'n lang PAD saam en ons beplan om nog heelwat uitdagings en nuwe PAAIE saam te trotseer ... (met of sonder die Rietperd). Die Two Oceans sal ons seker nie weer saam kan ervaar nie, maar korter  wedlope is seker nog n moontlikheid - mag ons knieë dit toelaat! 

  Voorspoed met jou volgende Halfeeu (give or take a little). Na 60 word dinge darem makliker en meer rustiger! Vra my, ek was al daar.


Beste Groete,    Neels en Edith


Van Heinrich Raubenheimer

Hi Leon

Baie geluk met jou 60ste verjaarsdag! Ek dink vanaand ver terug waar jou en my pad begin het daar in die vroeë sestiger jare. Waar anders as op die atletiekbaan! Ek onthou nog ek was in standerd twee toe is daar die middag 'n outjie van Oos London en hy kan nogal hardloop ook. Ons het dadelik van mekaar gehou - wat is dan nou lekkerder as om teen mekaar te hardloop. Die vyf jaar op laerskool het ons meer as atletiek maats geword. 
Onthou jy nog elke Vrydagmiddag na skool het ons veld toe gegaan en lekker wors gebraai en in die stroompie baljaar. Ek dink ons het ook kleilat gegooi teen mekaar. Die laerskooldae het soos 'n oogwink  verbygegaan. Ek het jou ook baie in die moeilikheid laat beland by jou Ma. Dit was gewoonlik my skuld dat ons te lank in die veld gebly het en jy moes nog 'n paar dinge by die huis doen. Jy het altyd 'n goeie hart gehad en niks teen my gehou nie.

Ons is toe in 1965 Roodepoort Hoër toe. Die eerste skoolsportdag sal ek nooit vergeet nie. Jy het my in elke item geklop. Dit het my aarde toe gebring en ek het gesien jy gaan op die atletiekbaan groot dinge doen. In die volgende vyf jaar het jy dit dan ook gewys. Ek dink jy was een van die beste atlete wat Roodepoort Hoër nog opgelewer het. Ek was nou die dag by die Hoërskool gewees. Hulle het 'n Lapa daar gebou en daar hang 'n foto van jou en hulle noem daar dat daar nog twee rekords van jou is in die 800 meter wat nog nie verbeter is nie. Jy moet 'n slag self gaan kyk! Ons het almal hier in standerd nege gesien dat jy nie net 'n goeie atleet is nie maar dat jy ook 'n leier is. Toe jy in matriek hoofseun word was ek nie verbaas nie! As mens terug kyk dan was dit goue jare daardie.

Na jou weermag en my vloot het ons paaie weer gekruis toe jy van Stellenbosch vakansies huistoe gekom het en ek by RAU studeer het. Naas my ouers het jy die grootste rol in my lewe gespeel - ek is altyd dankbaar daarvoor!

Jy moet môre 'n wonderlike dag saam met Saartjie en jou kinders 
Ingeslote is 'n foto van my en Erika toe ons
verlede jaar Atlanta toe is in die VSA en vir Jaco gaan kuier het. Sy meisie Katie is ook op die foto.

Lekker verjaar
Heinrich.


Van George en Anna-Beth Fivaz

Liewe Leon

Baie geluk met jou 60 ste verjaarsdag.   Mag hierdie jaar die begin van `n tweede fase van jou lewe beteken.   Mag die kragte vermeerder, die gesondheid wees soos goeie rooi wyn wat net verbeter met die jare, maar bowenal mag jy `n vreugdevolle gelukkige jaar saam met jou vrou en kinders beleef. 
Baie liefde
 AL DIE FIVAZ’E  IN PRETORIA

Van Danie en Martie Coetzee (in Paraguay)

Leon, baie geluk met die mylpaal. Ons hoop dat dit ´n wonderlike dag en baie goeie jaar vir jou sal wees. Veral met baie goeie gesondheid, hoe ouer mens word, hoe belangriker word dít. 

Groetnis en liefde van ons.
Danie en Martie

Van Johan en Sjarlene Thom

Leon, baie hartlik geluk met jou 60ste verjaardag. Jy is nou oor die hond se rug – hiervandaan is dit net afdraende, ook wat jou moeite en harde werk betref!


Toe ons mekaar leer ken het (nou al byna 40 jaar gelede), het ons nagte deur gesels oor nuwe en opwindend ánder maniere om te dink oor God, mens en wêreld. Ons wens jou toe dat jy hierdie vermoë om nuut te dink sal bly uitbou. 

Solon (die Atheense digter-staatsman uit die 7de/6de eeu vC) het gesê: “Ek word oud terwyl ek nog voortdurend baie dinge leer” (frag. 22.7 Diehl). 


Geniet die nuwe en onverwagse wat voorlê saam met Saartjie en die dogters.                                                Johan en Sjarlene



 Van Anton en Amy van Niekerk



Beste Leon

Hartlik geluk met jou 60ste verjaardag; dis tog ‘n belangrike mylpaal. Baie dankie vir jou en Saartjie se vriendskap oor soveel jare; dit beteken vir ons geweldig baie. Baie dankie ook vir al jou hulp in ons departement, en vir wat ek omtrent die filosofie en veral Gadamer by jou kon geleer het. 


Baie dankie eweneens vir jou werk as ons predikant; veral vir die swaar tye, soos toe Gerhard siek was en toe ander slegte goed met ons gebeur het, en jy altyd daar en beskikbaar was en op jou eie manier ons laat voel het ons staan nie alleen nie. Jy is egter ook die soort mens met wie ‘n mens die goeie dinge ook deel, en ook dit beteken vir ons baie.


Ons hoop jy sal jou weg terugvind na ‘n paar maratonne en dat jou knie vir jou weer die vryheid van die oop pad sal bring. Ons hoop die dag en die naweek is vir julle iets besonders, en dat julle nog lank vir mekaar en vir ons almal gespaar sal bly in goeie gesondheid.
Ons glo dat die Een in wie se diens jy staan, die werk van jou hande oor jou sal bevestig.


Met beste wense      Anton en Amy


Van Wikus en Jacomie Hanekom

Ons wens beslis vir Leon baie geluk maar hoop om julle hier by ons te verwelkom voor die verjaarsdag.

Vir my was en is Leon 'n ondersteuning vir my geestelike lewe en in die fisiese, deurdat met sy gedagtes en gesprek, ek my knie kon regdokter sonder operasie - een van die baie wonderwerke wat ons elke dag beleef, God in die mens bring dit; jammer ek kon dit nie vir hom doen nie.

En dan natuurlik vir my geestelike lewe was en is sy rykdom aan ondervinding en kennis 'n GROOT steun in my denke en  verryking van my geloof.

Ek sal graag nog met hom baie ander gedagtes deel, maar ondersteun sy strewe om die Christelike lewe deel te maak van ons kultuurlewe, soos deur sy Feeste-inset. Dit is vir my pragtig hoe hy elke siening kan inkleur hetsy deur sy liefde vir skilderye of deur weldeurdagte aanhalings wat sommer maklik voortkom, om 'n onvoltooide denkwyse van 'n halfgebakte idee, soos myne heel dikwels is, bietjie meer aanvaarbaar te maak!

Groetnis

van Lyn en Gerhard Lubbe

Liewe Leon, 
Baie  geluk met hierdie waardige verjaarsdag, ons wens jou nog vele meer!

Ek sluit n foto in wat vir my nogal tipies is van jou: 'n baie wakker kyker na mense en n geamuseerde luisteraar wat soms nie sy ore kan glo nie. Dit herinner my ook aan baie lekker kuiers en geselse oor die jare, by julle huis en by ons s'n.

Ek sal altyd bly wees dat ons so deur die gesamentlike ses dogters ontmoet het. 
baie goeie wense vir 'n heerlike verjaarsdag.
Lyn en Gerhard

Van Louis en Anita Jonker

Ek is waarskynlik een van net ‘n handjievol gelukkige mans wat al saam met Leon kon slaap! Ek weet nie wat alles in sy “Parabat”-dae gebeur het nie, maar in sy loopbaan as dominee is ek waarskynlik die enigste man wat uitverkore genoeg was om saam met hom te kon slaap. Hieroor later meer .....



Ek het Leon leer ken toe ek en Anita en ons 3-maande oue Johannes in Buitekring 69 ingetrek het in 1992. Ons was pas terug van Nederland af, en het die Houtmans se huis opgepas. Baie gou het ons besoek ontvang van ‘n bebaarde, vriendelike, en nogal oopkop, dominee. Onse Johannes het net verskrik toegekyk, maar sou later – toe hy bietjie ouer was – meer emosie daarby sit. By ‘n latere geleentheid sou Johannes ‘n keer vir Leon blaf soos ‘n hondjie toe hy Leon sien. Ons weet tot vandag toe nog nie hoekom juis blaf nie?! Maar terug by die besoek: Ons het sommer dadelik van Leon gehou, en het in hom seker een van die belangrikste gespreks- en denkgenote van ons lewens ontdek. Soveel opregtheid en diepgang het ons lanklaas in iemand ontdek – veral nie in enige ander haastige persoon nie! Leon was daarom ook betrokke by die reëlings en preek by onse Johannes se doop in Stellenbosch-Welgelegen (ek was toe nog nie mede-dominee daar nie, en my vriend Ockert Meyer het met Leon se vriendelike samewerking die doophandeling kom doen). Later jare, toe ek wel dominee saam met Leon was, sou Leon weer preek by onse Cornelius se doop. Toe ons en die ander dooppaar mooi netjies om die doopbak staan en klaar die vrae beantwoord het, wou Leon hê ons moes nader staan vir die water op die voorkoppie. Net jammer hy het toe nog vergeet dat die babatjies ingebring moes word!! Toe ek hom daaraan herinner, het hy vriendelik ingestem dat die babatjies maar kan inkom!

Dit was die beginjare! Oor byna tien jaar van kollegaskap in Stellenbosch-Welgegelen heen, het Leon ‘n nog groter vriend en mentor vir my geword. As daar een mens was wat onwrikbaar by my gestaan het in die swaar tye toe ek aangekla was by die Ring en Sinode, was dit Leon!! Nie net vanweë vriendskap of kollegaskap nie, maar uit oortuiging!! Daarvoor sal ek Leon altyd dankbaar bly. En as daar ooit iemand was wat verstaan het hoe om ‘n lui mens soos ek aan die draf te kry, was dit ook Leon!! Leon het my selfs sover gekry om saam met hom en Monty en Theunis ‘n halfmarathon te doen – met welslae. Soveel so dat ek nog steeds halfmarathonne doen terwyl Leon (en die ander!!) al lankal uitge-“chicken” het!!

Leon, baie dankie vir jare se vriendskap, kollegaskap en mentorskap. Jy het my baie geleer van die bediening, van hermeneutiek, van myself, en van God! Daar was tye wat jy deur mense in die gemeente gekritiseer is. Elke keer wanneer dit in my teenwoordigheid gebeur het, het ek vir hulle vertel dat hulle ‘n keer na jou moet luister .... om die diepe, verantwoordelike nadenke oor God en die lewe te hoor en te beleef! Jy was nooit bereid om te “settle” vir goedkoop oplossings en vlak nadenke nie – jy was altyd verbind tot gesprek en ‘n waardering van kompleksiteit.

En nou word jy 60 jaar oud!! Ek bemerk in jou deesdae ‘n baie groter rustigheid (dalk omdat jy nie meer hardloop nie!). En ek bemerk dat al hierdie mooi dinge waaroor ek hierbo vertel het, net al meer in jou “mature” het. Mag die volgende jare dus ryk en goeie jare wees! Mag dit baie lewensbevrediging inhou saam met Saartjie, jou kinders, en jou mense. Al sien ons mekaar sedert my skuif Kweekskool toe baie minder, bly ons geesgenote. Mag ons nog die voorreg hê om dit vir baie jare te deel!

En o ja, liewe leser van die blog, dan moet ek seker die aap uit die mou laat oor my en Leon se saamslaap! Soos ons vier (Leon, Monty, Theunis en ek) gereeld gedoen het, was ons weer ‘n keer op ‘n kollega-wegbreek op Kleinmond. Hoe dit gebeur het, weet ek tot vandag toe nog nie, maar toe ek my weer kom kry op die eerste aand – nadat ons eers baie intens en ernstig gewerk het, en toe saam aan Leon se gewilde potjie gesmul het –  lê ek en Leon lepel en slaap op die mat in die sitkamer!! Net vir die rekord: Nie ek of Leon ontken hierdie gebeure nie!!

Geen wonder ons was sulke goeie kollegas nie!!


Van Jaco en Ydaleen Coetsee


Leon, dankie vir jou vriendskap van studentedae af, deur Knysna tot weer op Stellenbosch.  

Ek het altyd opgesien na jou (maar nou vind ek uit jy is net 2 maande ouer as ek!) Maar die opsien bly. Die dae van die SET toer, van die Ek-en-Jy koffiekroeg, van die Admissiebondblad, CSV.  Jy was (en is) altyd vol energie, aansteeklike energie, doen-energie, bid-energie, gesels-energie, evangelie-energie. Jou entoesiasme vir die lewe het grootliks op my afgevryf van daardie dae af. Ek het altyd daarna uitgesien om iets saam met jou te doen of sommer net saam te wees.  Ek was nie n klasmaat nie, nie 'n sportmaat nie, nie 'n filos-maat nie en nouja, teologies probeer ek maar in jou skaduwee bly. Tog, ten spyte van al die “nie’s”  het jy 'n reuse invloed in my lewe gehad. Jou manier van dinge doen. Jou ewewigtigheid, jou koel kyk na sake….en warm raak oor sake. Jou liefde vir die kerk, later vir eenheid en alles wat met Belhar saamgaan.  

Ek kan nie aan jou los dink van Saartjie nie, en ek onthou hoe (uiters!) verlief julle was en hoe (warm!) julle huwelikslewe as studente was. Jy sal dit nie weet nie, maar ek en Sakkie het een aand vir julle kom kuier in Banhoek (watter romantiese huisie) en by die deur omgedraai omdat ons agtergekom het dit was nie n goeie tyd om verliefdes te pla nie. (Terloops, op pad terug het ek die motor se onderstel so sleg gestamp dat hy byna afgeskryf is ...en ek en Sakkie moes daardie aand al met die Helshoogte pas afstap , deur Idasvallei, tot in die dorp waar ons hulp kon kry. En ja, in Idasvallei het iemand ons toegesnou: 
“Wat soek julle whities hier?”  

Ek onthou die koffiekroeg as 'n werklike tuiste vir talle studente wat kameraderie opgesoek het. Die plekkie het nou nie juis ambiance gehad nie, maar ons was daar vir ander. Elke Vrydag se uitpak en weer terugpak.  Julle twee wonings in Knysna waar ons nie sou verbyry sonder om by julle aan te ry nie. (En Saartjie, ek onthou jou met n baba op die bors onder n kombersie). Goeie ou dae.  

Leon, in besonder is ek so dankbaar vir die rol wat jy speel op Stellenbosch, binne die NG Ring en gemeentes om te bly hou aan die eenheid wat so ontwykend is. Jy het telkens, op die regte tye, gesprekke gered en gedraai en ons bymekaar gehou.  Die SET-toer wat jy met soveel selfvertroue gelei het – toevallig onthou ek Knysna die beste as die plek waar ons op die Rugbyveld geslaap het. En so sou ek nog los herinnerings kom bymekaargooi.  Dit was (en is) 'n voorreg om jou te ken en deur jou geïnspireer te kon word van ons jong jare af en vir my is dit 'n besondere bonus dat julle weer op Stellenbosch beland het. 


Mag die toekoms vir jou , vir julle, net genade en vreugde inhou!


Jaco

Van Ria (Hugo) en Le Roux  Burrows



My "onthou" van Leon Fouché

My eerste "gewaarwording" van 'n man genaamd Leon Fouché was toe ek na Roodepoort Hoërskool toe as standerd 6 leerling in 1970 gegaan het – ek dink Leon was toe in standerd 9.  Daar gekom het ek gehoor van die atleet wat in veral die 800m (moontlik ook die 1500m) met wyle Andries Krogman (hy was in Florida Hoërskool) intens meegeding het.  My eie belangstelling was in die korter items soos 100m, 200m en 100m hekkies en velditems verspring (en later driesprong).  Hoe versoen mens Leon se "langafstande" met my "sprints".  Die enigste twee gemeenskaplike faktore was (i) die opbou van stamina (kom ons noem dit fiksheid) en (ii) kragwerk.  Die het uiting gevind in die saam oefen op die grondpad in Strubensvallei.  Ons het soontoe gedraf seker so 8 km vanaf ons woonhuise in Horison, Roodepoort– die stamina deel – en dan die kragwerk waar op die grondpad teen 'n bultuit "gesprint" het.  Na die sessies het ons dan terug na Horison gedraf.
In my finale jaar katkisasie moes ons as voornemende lidmate van die NG Gemeente Horison 'n kamp bywoon.  Die leraar betrokke was Ds Ben Smit (intussen oorlede).  En wie was die fasiliteerder?  Leon – die tokkelok – en sy "meisie" Saartjie.  Sy toegewydheid as Christen en dit waarin hy glo, het 'n blywende indruk op my gelaat.  Na die kamp was die enigste kontak indirek deur sy ma – tannie Emmerentia – wat koster van die gemeente was en haar skakeling met my pa wat die Scriba-Kassier was.  So het ek op hoogte gebly van sy verdere studentedae in Stellenbosch.  Hy is na afloop van sy studies, sover ek weet, na Knysna as predikant. 
Toe Stellenbosch Welgelegen gemeente nog 'n leraar moes beroep was Leon op die kortlys en die keuse het op hom geval.  So word hy weer ons, ek en Ria, se geestelike bediener.  Hier in Stellenbosch het ons menige erediens van hom bygewoon – 'n ervaring van kort en kragtige "op die man-af" Woordverkondiging! Ons het ook jare saam op die Kerkraad gedien, Ria was ’n tyd lank  saam op die Strategiese Komitee, maar ons het veral baie geleer in sy kort kursusse.
Intussen het ons verhuis na Kleinmond, maar kontak is nie verbreek nie.  Leon en Saartjie bly goeie lewensvriende.
Laastens waardeer ek intens sy belangstelling met die heengaan van my pa in November 2011.  Hy het moeite gedoen om die dankdiens by te woon en dit duidelik gestel hoeveel waardering hy het vir die voorbeeld wat my pa vir hom was. Dankie Leon.
Leon:  Verjaar lekker (die groot 60) en hou aan om 'n unieke voorbeeld te wees vir almal met wie jy in aanraking kom!  
                                                                                                        Le Roux en Ria

Van Liezel (Van Beek) en Dian Wessels

Oom Leon. 
Die eerste beeld wat by my opkom is altyd dié van 'n glimlag met 'n baard. En ook 'n fast forward knoppie. Alles by hom gebeur altyd in 2xfwd spoed - vinnige grappies op vinnige draf-stappies. Maar, my oom van Stellenbosch wat hou van swart dra en niks van soengroet nie, laat my ook dikwels dink aan die twee regop strepies van 'n pauseknoppie: drafbene ferm geplant, kan hy ewe vinnig stop en fokus. Hy het 'n manier om te luister dat dit regtig voel asof wat jy dink, saakmaak. Ek hoop dat wanneer hy nou 'n bietjie deur sy lewe rewind, hy sal weet hoe baie hy waardeer word. En ook genoeg rede sal vind om vir al die jare wat volg sommer heeltyd op die play knoppie te druk. Lekker verjaar!

Van Rufus en Ilse Gouws

"Leon, jou vriendskap oor jare en oor kilometers heen waardeer ons opreg. 

Al knak ons knieë en al lê nog 'n marathon buite ons bereik hoop ons dat herinnerings daaraan en talle nuwe onderwerpe ons nog baie praat- en kuierkans gaan gee; selfs al is die mosselsop souter as wat dit moet wees. 

Baie geluk, mag jou nuwe dekade amper so goed verloop soos jy dit sou wou sien verloop. 
Rufus en Ilse."

Van die Lutz-Familie 

Liewe Leon


Ons hoop jou verjaarsdag is ‘n heerlike dag. Mag hierdie nuwe jaar baie geseënd en gelukkig wees vir jou en jou dierbares.
Erich, Noëlline, Barend, Frederick en Linki Lutz asook Ben en Senobia Lutz
 
Behalwe vir die feit dat mens nie anders kan as van Leon as mens hou nie, het ek groot respek vir hom. Ek het ook so al die idee hy het iets het van die gees van daardie ware filosowe van ouds ... ‘n soort wysheid en dieper kennis en ‘n oopkop manier van dink...

Ek onthou my kinders het destyds na hom verwys as die “cool” dominee. Toe ek eendag vra hoekom hy dan nou “cool” is, het een van my seuns geantwoord – ‘n predikant wat met ‘n motorfiets rondjaag en so waaiende dracula-jas dra wanneer  hy in die kerk inhardloop, is mos “cool”.

Van Estian en Carin Calitz

Beste Leon

Ek en Karin wens jou net die allermooiste toe vir die nuwe lewensjaar. En sommer ook baie dankie vir die inspirerende en heldere manier waarop jy diep waarhede oordra. Mag 'n hele paar drome waar word in die jaar wat kom.


Baie geluk.
Estian

Van John en Erica Baker

Beste Leon

Baie geluk met jou verjaarsdag. Mag dit die begin wees van ‘n baie mooi en geseënde dag en ‘n nuwe tydperk in jou lewe. Jy mag selfs ‘n bietjie afslag bekom weens hierdie mylpaal in jou lewe!  Ons is ook baie dankbaar vir jou vriendskap en die voorbeeld van ware omgee in ons gesin.  Geniet die dag en ek hoop jou dierbares bederf jou lekker.
                                                      
                                                       Beste Wense
                                                      John en Erika Baker

Van Willie en Elena van Rooyen - ook Michael, Leonie en Sebastian


Beste Leon

Van harte gefiliciteerd met jou 60 ste verjaardag.'n Gelukkige en geseënde lewensjaar word jou toegewens, en baie, baie daarvan sonder enige pyne.Ons dink aan jou en  Saartjie en ons hoop jy verjaar sommer lekker.

Aller beste groete uit Sydney
Willie en Ellena
Ook baie geluk en beste wense van Michael, Leonie en Sebastian.                     20 Mei 2012
                            

Van Elzette Schutte, Conrad en Simon

Baie geluk aan mister Leon!
Mag dit ‘n heerlike jaar wees wat voorlê! 60 jaar is gelukkig nie oud nie so daar is geen verskonings vir klagtes oor kranke en kwale nie!!
Oom Leon lyk anyway altyd so goed...hy dra mos ‘n jeugdigheid saam met hom.

Dra asb ons gelukwense oor aan hom! 

Van Susan Agenbag


Leon, baie geluk met ‘n groot mylpaal in jou lewe. Ek hoop daar lê nog baie gelukkige en geseёnde jare voor.

Baie dankie dat ons lekker met jou saamwerk by die kantoor.



Groete

Susan Agenbag

Van Leonie Fourie


My verjaarsdagboodskap:

Leon baie baie geluk met die ‘n 60ste  mylpaal. Baie dankie dat jy so spesiaal, behulpsaam, vriendelik en altyd bereid is om te “luister”. Ek kan nie dink dat daar al een dag was wat ek jou nie sien glimlag het nie.  Mag jy 'n wonderlike verjaarsdag hê en nog 'n wonderliker jaar wat voorlê.  


                                Baie groete Leonie


Van André en Helaine Pelser


BAIE geluk met die mylpaal Leonseën en vrede vir jou en die gesin, geniet jou wegbreek met Saartjie en kom veilig terug!
André en Helaine

Van Andries en Lilian Daniels

Leon, baie hartlik geluk met jou 60. Ons kan nie glo jy is 60 nie. Het daar nie miskien 'n fout gekom met die opgee van jou geboorte nie? God's rykste seën op die herdenking van jou geboortedag 60 jaar gelede. Die Here het nie 'n fout gemaak toe Hy jou en Saartjie bymekaar laat uitkom het nie. Hy het ook nie 'n fout gemaak toe Hy jou vir Welgelegen gegee het nie. Jou kinders kan trots wees op jou; ook jou kollegas en die gemeente. 


Dankie vir jou ondersteuning aan ons. Dit word opreg en ten seerste waardeer. Ons beskou dit nie as ons reg om hierdie boodskap aan jou te stuur nie. Ons beskou dit as 'n goddelike eer en voorreg. Dit is die wense en die gebed van ons harte dat jy en jou gesin 'n besonderse en mooi dag sal hê. Mag jy die Here in wie se diens jy staan jou telkemale verras en mag Hy voor jou en jou gesin uitgaan. 
Seën vir die dag (20 Mei 2012). 
Andries & Lilian

Van Dirkje de Jongh Manson


Van Rieta en Hennie Pietersen

Liewe Dr/Ds Leon BAIE GELUK met jou verjaarsdag.
Mag dit ‘n baie mooi dag en jaar wees gevul met liefde, geluk en vreugde.

Om U geluk te wens kom daar net ‘n rykdom van onthou/leer/dieper delf in Gods Woord by my op! Dit is soos ‘n kosbare halsnoer waarvan elkeen van daardie pêrels net onderstreep wat U alles vir my, my gesin en Hennie se lewe beteken, kosbare samesyn en groei op my geloofspad waarvoor ek nooit genoeg dankie kan sê nie.

Met my eerste kleinkind Katja se geboorte 10 en ‘n half jaar terug. Toe Lize so bekommerd oor allerhande dinge was, kon ek u skakel en het U met haar gepraat en haar gekalmeer sonder dat u haar ken, maar daar in Pretoria die aand voor die keisersnee wat dit wonderlik.

Watter lang en ongelooflike pad, beginnende met die Alpha en Omega groep, om met u te kon stap.

Toe kom Hennie by met die Dinsdagaand groep en ons kyk na Gods Woord en ons het die Vryheid om daaroot te praat en so het dit vir ons al hoe meer verstaanbaar geraak en so ook met die Geloofsgroei. Die tyd wat u daaraan bestee en elkeen antwoord? WOW!!

Ek met my baie skuldgevoelens en U reaksie: Rieta, wie is jy dat God jou nie volkome kan vergewe nie? Daar was en is talle en talle sulke oomblikke in my lewe.

Male sonder tal kon ons op U knoppie druk en altyd het U met wysheid en wel deurdagte voostelle gekom, soos die laaste keer met my gesprek met Jorietha, my jongste.


En dan met Hennie se siekte, altyd beskikbaar of dit nou per sms; oproep of vir hom kom besoek het. En jare terug met my hospitalisasie toe u my nie kon kom besoek het nie, stuur u  vir Ds Louis in my lewe!

U en Saartjie se verhouding is vir almal van ons so ‘n GR8 voorbeeld. Baie dankie daarvoor!

En so is daar onthou van die man/Leraar Leon Fouché sonder ophou!! En daarvoor sê ek baie baie dankie.

Van Christiaan Kapp en Mika Huang-Kapp

Liewe Leon

Ek wens jou met blydskap 'n wonderlike verjaardag en 'n puik nuwe lewensjaar toe! Jy is 'n wonderlike, inspirerende mens en dit is niks minder nie as 'n absolute voorreg om jou te ken. Mag daar nog vele geseende jare wees!
Met baie liefde, Christiaan Kapp

Dear Leon,
Happy Birthday!!! Thank you for helping us with all the processes of our wedding. May this year be a fabulous year and have a wonderful day.

                                                                          Mika Huang-Kapp

Van Chris en Tertia Kapp

Leon

Ons vier saam met jou fees en dink aan jou op  Sondag, die 20ste, wanneer jy die volgende Rubicon oorsteek. 


Mag dit 'n wonderlike dag vir jou en jou pragtige gesin wees en mag die nuwe lewensjaar steeds geseënd, gelukkig en voorspoedig wees. 


Dankie vir so baie wat jy vir ons as gesin in die besonder en vir die gemeente in die algemeen beteken. Jy is voorwaar 'n begaafde en begenadigde mens. 

Ek wens ek het alles verstaan soos julle (jy) dit verstaan!             

Groete                                      
Chris en Tertia Kapp en gesin

Van Marí, Charles en die ander Kiecks

Baie geluk met hierdie groot mylpaal in die lewe, Leon!

Mag hierdie 'n heerlik geseënde verjaarDAG wees, maar mag jou nuwe lewensjaar 'n uitstaanjaar van genade, seën, vreugde, vrede + goeie gesondheid wees, wanneer jy eendag terugkyk!


Ons is baie lief vir jou - jy weet dit, né ? - en ons is baie dankbaar vir al die ekstra kilometers wat jy al saam met ons gesin gestap het! Baie dankie ook daarvoor!

Seënwense van Marí, namens die res van ons gesin


Van Marlene Bezuidenhout


Hello Saartjie, toe ek vanoggend na Leon se blog kyk, kon ek nie help om hartseer te word nie .... so dankbaar dat julle so geseënd is ..... met soveel liefde tussen julle, ... dink aan die dae toe ek en jy saam gedraf het en een oggend was ek so moeg en wou jy vir my rooibostee gee en vir die eerste keer sê ek vir jou nee, ek hou nie daarvan nie!! (het al die ander tye dit gedrink.) 
Ek onthou Leon se oë en sy glimlag ... toe hy my kinders gedoop het ... ja die lewe is binne 'n oogknip verby en as ek na julle kyk en jul drie pragtige dogters, dan kan ek sien jul leef voluit ...


Weereens baie geluk Leon, mag jy  geseënd wees met goeie gesondheid en nog baie jare saam met jou familie en vriende...dit is 'n voorreg om jul te ken..... Marlene xxx




My drie seuns, van links na regs……Verdes, Jurgens en Rian Terblanche. 




BESTE WENSE van die Stellenbosch Welgelegen Geloofsgroeigroep.


                                                                                                                



           

 

1 comment:

  1. Ek is op soek na 'n e-pos adres vir Dr Fouche. As iemand dit dalk het, stuur vir my na loodoliver@gmail.com. Die mweb een werk nie meer nie

    ReplyDelete