Thursday 17 May 2012

4. Voëlvlug: Stellenbosch & Gelukwense van Cara, Tanya en Nadia






So lyk ons PA - Geluk Pappa!


Die drie dogters, Cara, Tanya en Nadia is in Knysna gebore.  Februarie 1988 verhuis die  gesin  na Stellenbosch, wanneer Leon ‘n beroep aanvaar na Stellenbosch Welgelegen. Hy werk steeds daar. 
Hy is ook betrokke by die Filosofie Departement van die US. 

Gelukwense van Cara


'My pappa is die sterkste!'

Ek glo dit vandag nog, baie jare na die kleuterskool kreet wat alle kleuters so trots basuin.

Toe ek 32 jaar gelede my pa ontmoet, kon ek nie my geluk glo nie.
Hierdie aantreklike man met die Romeinse neus, helder oë en glimlaggende mond gaan my aardsvader wees? Werklikwaar? Net daar het ek besef dat hierdie lewe 'n fantastiese een gaan wees - en dit was, en dit is.

Uit die oë van 'n kind -

My pa dra 'n 'muu-mal-boekie' (muurbalbroekie), hy het 'n donker baard, hy harloop marathonne, hy windsurf, hy lag baie. My pa het 'n studeerkamer waar hy lyk of hy kwaad is, maar hy konsentreer net. My pa lees kookboeke voor hy gaan slaap. Einklik slaap my pa nooit nie, want hy werk soms deur die nag. My pa was in die army! My pa doen my hare in 'n brawe skewe ballet bolla, hy kom haal my by die skool met sy motorfiets, 
hy is cool!

Uit die oë van 'n tiener -

My pa is humiliating! Hy laai my by die skoolsokkie af en wil my hand vashou terwyl ons na die ingangsportaal stap! Hy gooi al die vensters in die huis oop wanneer hy 6:30 (am!) terugkom van sy oefening. My pa leer vir my konsepte, tale, en waardes. Geloof, Hoop, Liefde, Integriteit, Verdraagsaamheid. My pa preek baie mooi. Hy maak lekker kos. Hy skryf boeke. Hy maak flou grappe. Hy verstaan my nie altyd nie, maar hy kry punte vir probeer. As hy stofsuig moet ons spring. Hy hou nie baie van fliek en TV kyk nie. My pa het al gehardloop op amper elke pad waar ons gesin al ooit gery het. My pa gaan doen baie huis- en hospitaalbesoek. Hy lei troues en begrafnisse. Ek sien dat hy baie sterk is.

Uit die oë van 'n jong volwassene -

My pa het 'n grys baard, my pa vang saam met my graad. My pa het fantastiese vriende. Hulle word oor die jare ook my vriende, ten spyte van die 'moenie tande tel nie' waarskuwings. Noag gee nie sulke lekker drukkies soos Sara nie, maar hy gee goeie raad (hy gee wel vir mama baie drukkies). My 'Wanderlust' neem my weg na Europa, Kaapstad en Johannesburg. My pa hou nie van telefoonklets nie, maar so nou en dan gesels ek met hom en Sara in stereo. My pa is baie lief vir my ma, hulle drink ten minste drie keer per dag saam koffie. Wanneer ek kom kuier drink ons wyn. Ek bring graag vir my pa regte wyn - nie water-wyn soos wat hy my mee wou flous jare terug nie (!) My pa ondersteun meer as ooit die vyf vroue in sy lewe (die swart kat word
ingesluit), elkeen met haar eie persoonlikheid, behoeftes, vrae en verhale. My pa doen dit met deernis - hy moet baie sterk wees.

Uit die oë van 'n vrou -

My pa versinnebeeld vir my die woord 'Mensch'. Hy is passievol. Hy is nederig, maar nie omdat hy rede het om te wees nie. Hy neem genot uit dinge wat dalk vir ander vanselfsprekend is. My pa is steeds daai ou wat ek 32 jaar terug ontmoet het - hy is steeds aantreklik, met die kenmerkende neus en laggende oë. Die verskil? 
Gryser en wyser. My pa preek nie net nie - he practices what he preaches. My pa is 'n fighter, hy gee nooit op nie. My pa is my held en hy is baie cool.

Lekker verjaar, Leon! Jy is steeds die beste en die sterkste pappa in die hele wêreld.

Liefde,
Cara


Geluk van Tanya
Staaltjies en verhaaltjies:

Toe ons almal nog op skool was, het my pa altyd ingekom na sy vroegoggend draffie (dis 'n understatement, ek meen, sy vroegoggend DRAF) en AL die huis se vensters oopgegooi (vars lug vir almal, om te deel in sy amazing draf ervaring).

Dan het hy die watermusiek van Händel aangesit op vol volume en in die gang opgestap en gesê "Oppies poppies!"

(Kind), nee dis koud! (Leon) ag nee alla wêreld, julle kan nie so lê en poep ruik nie, staan op!

  
                                   
- Die stofsuier en die vervlakste kat:
My pa kon altyd hoog die moer in raak as skoene in sy stofsuigpaadjie se pad sou lê. Hy't gestofsuig dat die skoene so spat. 
'n Netjiese huis, dis al wat hy wou hê. Eendag het hy sy skop mannerisme uitgehaal op die vervlakste kat. Dis die bure se gevreet wat sy arme eende wou eet. Vervlakste kat was te vinnig onder sy voete uit, en toe hy hom kon kry, het sy haarself bevry, vervlakste kat. Teen die agterplaas se muur, skop hy toe sy eie toon sat. Die pyn was kloppend vir die volgende uur. Vol ellende het hy besef, daardie les was  duur!

- Die balletroete en die geskiedenis van karre:

Van Dalsig tot by Banghoek studio was, in die dag van 'n ballet dogtertjie, so goed soos van hier tot in Riversdal. My pa het al drie dogters in een week 6 keer heen en weer karwy. Ek onthou die rit in die wit 1980's BMW, tyd saam met my pa. Hy't gereeld gevra 'wat het jy vandag in die skool geleer?' Wanneer my antwoord was, 'niks nie', was sy antwoord altyd, 'maar ons sal die minister van binnelandse sake moet bel om jou uit die skool uit te haal, jy leer dan niks!'.
Wanneer hy nie vrae of kommentaar gehad het nie, het ek geweet hy dink baie (soos in baie) gedagtes.
Die ou Alfa Romeo (wat opgeroes het en padstof ingesuig het by die ratkas se gat), het hy geref tot noodgedwonge ratwisseling, elke draai skerp gevat, en altyd die parkeer hefboom laat klik klik klik wanneer ons tot stilstand gekom het. Maar die ou, wit, groot BMW het hy bestuur soos die Titanic. Ons het gelukkig nooit die ysberg getref nie, al moes die gesin een langpad oppad plaas toe onbepland oornag in Laingsburg.

Sê dinge van my pa:

  • (kind) ek het hoofpyn, (Leon) strek 'n bietjie, dan voel jy beter.
  • (gesin ry in die kar) hier't ek vanoggend gedraf
  • Moet net nie neul nie. 
  • Serruria (Leon-taal vir 'roer jou gat'!)
  • Ek sal jou man eendag kan weghol! ...by 'n bult op ...in die berg!
  • Ag hel tog... neuk op, neuk in! (Leon-raad vir akademiese klagtes)
Liewe Pappa,
Baie geluk met jou 60ste verjaardag! Ek hoop jy het 'n heerlike een-en-sestigste lewensjaar, dat jy lekker boeke gaan publiseer in die komende jare, jou PhD gaan vertaal na Engels en jou windsurfer gaan afstof deur hierdie jaar! Die tagtigs is nog met ons. Tot jou tagtigste en meer! Cheers! Kom ons drink 'n rooiwyn op my pa! Dis goed vir sy marathon hart :)                                  Liefde, Tanya

Nadia se wense kom in beeld

                                                                                                              












Baie geluk, Noag! Lief jou baie!






Noag terwyl hy klas gee





Elke verjaarsdag word haar geskenkboekie (toe sy 10 jaar oud was) weer uitgehaal:









No comments:

Post a Comment