Liewe Leon
Die jare het ‘n boksprong gemaak en hier is ons: 60 jaar
oud!
Wie ES jy? Vir my
is jy die volgende:
Die gelowige wat vir almal om jou ‘n inspirasie bly.
Die beste pastor wat geen moeite ontsien om by siekes en
treurendes uit te kom nie. Jou preke is deeglik nagevors, weldeurdag en goed
gekonstrueer en dit bly vir my lekker om na jou te luister, maar dis OOK baie lekker om teen jou skouer te sit en na
iemand anders se preek te luister.
Jy is die akademikus, wat altyd aanhou studeer en altyd ‘n
bewonderaar van Gadamer bly - daarom
moet ek ook sy prentjie vir jou insluit. Wanneer jy toetse nasien, skryf jy
aanmerkings op die rekenaar by studente se name sodat jy dadelik navrae kan beantwoord. Wanneer
jy preekmaak of klas voorberei, kom ek nie in jou studeerkamer nie, want dan
trap ek daarop of stamp ek dit af. (As akademikus sal jy my selfs my verkeerde
aanhaling in die slotparagraaf verskoon.)
Jy is die stryder vir reg en geregtigheid en in die
apartheidsjare is jy verkwalik (én waardeer) omdat jy daarteen gepreek het en jou naam geteken het om teen die status quo te
rebelleer.
Die Pa wat altyd vir sy kinders in stilte bid, maar nie met
sy kommer oor hulle op sy mou rondloop nie en dit altyd regkry om my gerus te
stel. Ook saam met my in hulle vreugdes en prestasies deel – en in stilte die
trotse vader is. Jy is die Pappa wat in
die nag met die baba in die rugsak in die tuin gaan stap het om haar rustig te
maak sodat almal kan slaap. Die pa wat
‘n bok is vir pret en deelneem aan vakansieprojekte soos borde verf, pette maak
en selfs vir jouself twee onderbaadjies met die masjien gemaak het. Jy dans jou dogter se rol in die PA's se konsert, laai drie passasiers agter op die windsurfer, juggle met lemoene, speel Chopsticks wanneer hulle oefen vir 'n musiekeksamen.
As jy ‘n klip by die water sien lê, moet jy kyk hoeveel keer jy dit kan laat spring. Jou kollega het jou selfs eenkeer vir ‘n bottel wyn gewed dat jy nie ‘n baksteengrootte klip sal kan laat hop nie - die bottel het jy al verskeie kere gekry.
As jy ‘n klip by die water sien lê, moet jy kyk hoeveel keer jy dit kan laat spring. Jou kollega het jou selfs eenkeer vir ‘n bottel wyn gewed dat jy nie ‘n baksteengrootte klip sal kan laat hop nie - die bottel het jy al verskeie kere gekry.
In ‘n tyd toe ons geen raad geweet het met ons kinders se
universiteitsuitgawes nie, het die gesin saam besluit op onmiddellike aksie en
die jaar wat ek in Taiwan was – die swaarste in ons getroude lewe – het jy in buitengewoon
moeilike werksomstandighede jou fokus behou en was jy op jou manier Pa en Ma
vir ons tienerdogter. Ek sal jou altyd bewonder en dankbaar wees vir jou
finansiële vernuf en dat ons sonder sorge ons kinders deur universiteit kon
help.
Jy is die lojale vriend, wat alles vir jou vriende sal doen
– selfs jou gunsteling pet uitleen. (Ek ken een vriend wat sal ineenkrimp, wanneer hy hier lees.) Wanneer ‘n vriend in ‘n
marathon swaarkry, bemoedig jy, vertel grappies, maar weet om doodstil te bly
en net een voet voor die ander te sit as julle albei die muur geslaan het.
Ek kon nooit deel in jou draf-liefde nie, maar bewonder jou vir die permanente nommers in die Knysna en 2 Oceans-marathonne. EN die brons medalje in die driekamp - al was julle net 4 deelnemers in die kategorie en die derde deelnemer gediskwalifiseer. Ook dat jy een jaar derde gekom het in die Knysna. MAAR veel meer bewonder ek jou dat - nou dat jy nie meer kan draf nie - nie kla nie en vrolik kilometers ver swem - tot by een van jou gesinslede.
Jy is die beste
onderdaan wat enige kat kan hoop om te hê – wie anders sal kosgee en muis-reste
en kat-naar met soveel geduld opruim?
Jou sin vir humor is
in sigself vermaaklik (al sug ek soms?) die flouste grappe is vir jou die
snaaksste en jy vergeet die punchline wanneer jy aan die einde van die laaaang
grap kom.
The Good, the Bad and the Ugly bly deur die jare jou gunstling-movie en laat die kinders wonder of hulle iets misgekyk het ... maar ook nie meer deesdae nie.
Jy is nie lief genoeg vir fliek nie, maar daarvoor vergoed
jou liefde vir musiek, ballet en die teater.
Jy lees gedigte en luister musiek– al kan jy as jy baie van
Händel hou, dieselfde CDs oor en oor en oor en oor speel net soos wanneer jy
van ‘n vakansieplek hou en ons oor en oor daarheen teruggaan.
Ons kan saam lag, baie keer, op dieselfde dag – ‘n kwinkslag
is nooit op jou gemors nie. Jy gee altyd die beste reaksie. En jy slaan die bal vinnig terug.
Jy het BAIE geduld met my “projekte” wat ek aanpak en die
huis vir dae na verf en gom laat ruik. Die woema waarmee jy vensters en deur
oopgooi is aanskoulik. Jy gee gawe applous wanneer ons gestoffeerde stoele van goud na silwergrys
verkleur het en dit ‘n sukses is. Ek is seker as dit geflop het, sou jy my ook
nie verkwalik het nie. Daarvoor sal
ek aanhou om vir jou te sê watter das by watter hemp pas – al het ek dit al
baie keer met dieselfde das en hemp gedoen. Gelukkig dra jy in die somer swart.
Jy is ‘n natuurliefhebber wat altyd die berge, die blare,
die sonsondergang, die see en die reën raaksien, waardeer en afneem – dankie
tog vir nuwe kameras en selfone dat ons nie 6 fotos van ‘n rob in die water het,
waarop niemand die rob sien nie.
Jy is die beste seun wat enige ma ooit kan hê en jou
lojaliteit bly deurlopend. Ten spyte.
Vir my het die meetsnoere in lieflike plekke geval, my
erfenis is vir my mooi. Ek kon vir geen beter vriend, maat, pa vir ons kinders,
pastor, man gevra en gekry het nie.
No comments:
Post a Comment